Ons bou vir Afrikaans – toe, nou en vir nóg ‘n 100 jaar
‘n Eeu van bou – geboue, gemeenskappe, geloof
In 1925 het ons geliefde taal, Afrikaans, amptelike status gekry.
Die mense het besluit: die tyd is nou. Afrikaans sal meer as net ’n huistaal wees – dit is ’n taal vir denke, geloof, opvoeding en kultuur. Hulle het nie gewag dat iemand dit goedkeur of vir hulle toestemming gee nie. Hulle het self begin bou. Skole, kerke, universiteite, gemeenskapsentrums – plekke waar Afrikaans kan leef, leer en lei.
Nou, ’n honderd jaar later, vier ons daardie waagmoed, durf en prestasies.
Tog besef ons ook: As ons nie aanhou bou nie, verloor ons wat reeds bestaan. Daarom is die ware viering van Afrikaans as ons taal nie net ’n nostalgiese kykie na die verlede, of ‘n idealistiese uitsien na die toekoms nie – dis bowenal ‘n stap van aksie in die hede. ’n Verbintenis tot vandag.
Dis hoekom ons sê: By Kanton bou ons leefruimtes vir Afrikaans.
Die grootste geskenk vir Afrikaans se eeufees
In die jaar waarin Afrikaans sy 100ste verjaardag vier, gebeur daar iets besonders: die bou van ’n splinternuwe kampus vir Akademia.
Dis nie bloot net ’n nuwe gebou nie – dis die grootste enkele belegging in Afrikaans in generasies. Dit is ‘n voorreg dat dit juis nóú gebeur. Hierdie projek is ons verjaardaggeskenk aan Afrikaans – ‘n ruimte wat sal hou, wat nog waarde sal toevoeg vir ons kinders en hulle kinders.
Akademia is ook met die doel gestig om hoër onderwys in Afrikaans te bewaar en uit te bou. Want ’n taal sonder onderwys is ’n taal sonder anker en sonder vlerke. Hier gaan studente in hul moedertaal leer, droom, dink en groei. Hier bou ons aan ’n nuwe geslag denkers en leiers – toekomstige draers van ons kultuurerfenis in ons geliefde taal.
Leefruimtes vir Afrikaans – meer as net geboue
Kanton staan bankvas agter hierdie ontwikkeling – nie as ’n buitestaander nie, maar as bouer.
Ons bestaansrede is eenvoudig: om leefruimtes te skep waarin Afrikaans kan floreer. Ons fokus deurgaans daarop om ’n vennootskap te smee tussen kultuur en kapitaal.
Kanton glo nie dat ons ekonomiese vooruitgang en kultuurerfenis in kompetisie met mekaar behoort te wees nie. Inteendeel, ons glo dit komplementeer mekaar. Hierdie kampus sal ’n lewende bewys daarvan wees: As ons in ons taal, ons geloof en ons mense belê, dan bou ons meer as net geboue – ons bou gemeenskappe.
Ons bou die toekoms van Afrikaans.
Ons bou, want ons glo
By Kanton is ons trots om saam met Akademia en die res van ons Afrikaanse familie hierdie geskiedkundige jaar te beleef. Maar ons sien dit nie as ‘n eindbestemming nie.
Dis bloot die begin van die volgende honderd jaar.
Ons bou geboue, beslis. Maar so bou ons ook aan drome, oortuigings, identiteit en ’n taal wat ons koester en liefhet.
Geluk, Afrikaans. Jy is die fondasie van ons toekoms. Kom ons bou saam aan die volgende 100 jaar.
Wil jy meer weet oor Kanton en die planne vir die nuwe Akademia-kampus?
Raak betrokke by die Toekomsbouer-veldtog.
Skenk aan Akademia.